Loader

ONS FAMILIEBOERDERY.

Van As Boerdery is ‘n familiebesigheid geleë in die hart van die Overberg: Swellendam. Die boerdery is gesamentlik in 1960 deur pa en seun, Lourens en Mullie van As, op die plase Klipfontein en Brakfontein in die Malagas-area begin.

 

Tans bestuur ons ‘n gemengde boerdery van graan (koring, kanola, gars en hawer) en ‘n veekomponent (Dohne Merino- en Dorperskape).

Koring

Word gemaal vir meel wat gebruik word om brood, koek en allerlei gebak te maak. Koring is ook ‘n gewilde bestanddeel van ontbytpap en ander gesondheidsprodukte.

Gars

Gars word saam met hops ingespan om bier te brou. Indien die stikstofgehalte van die pitte nie na wense is nie, word dit as voergars geklassifiseer en as veevoer aangewend.

Kanola

Die goudgeel blommetjies wat die Overberg in Julie tot Augustus tooi is Kanola. Die piepklein swart pitjies se olie word plaaslik op Swellendam by SOILL gepers. Die olie word gebruik vir die maak van kookolie, mayonnaise, botter ens.

Hawer

Hawer word vir die ontbytmark geproduseer. Indien die graad nie na wense is nie, word dit ook in die voermark gestort.

Dorper

Van As Boerdery bestuur ‘n klein trop Dorpers wat alleenlik vir die beste kwaliteit vleis geselekteer word.

Dohne Merino

Hierdie dubbeldoelras is uitstekend aangepas vir ons natuurlike omstandighede. Die kombinasie van wol en vleis maak dit vir ons finansieël die beste keuse van ras.

GRAANBOERDERY.

Kontantgewasse van koring, gars, kanola en hawer word vir die winterreënseisoen geplant. Ons plantseisoen skop dus middel April af. Afhangende van die terrein word ‘n tand- of skyfplanter hiervoor ingespan. ‘n Wisselboustelsel word gebruik om rofweg 2 000ha per jaar aan te plant.

 

Alle bewerkings word op ‘n spoorverkeerstelsel (“Control traffic farming”/CTF) gedoen. Buiten dat dit meer koste- en tydeffektief is, beperk dit die kompaktering van grond. Plant- en oestyd geskied op 12m-spore terwyl die spuit- en kopbemesting op 36m, met ander woorde elke derde spoor, uitgeoefen word.

SKAAPVERTAKKING.

Van As Boerdery se dubbeldoel Dohne-Merino skape word vir wol- en vleiskwaliteite geklas. Skape wei op aangeplante weidings van lusern, hawer, klawer en radyse wat die natuurlike smaak aan vleis verskaf.

‘n Sesmaande skeerstelsel word geimplementeer sodat die skape nooit onder ‘n dik woljas uitermatig warm hoef te kry nie. ‘n Korter skeersiklus help ook vir die voorkoming van uitwendige parasiete.

Die lekkerste tyd van die jaar is wanneer die platsnyers uitgetrek en geghries word. Hoewel dit ‘n tydperk van laat nagte aankondig, begin die insamel van ‘n jaar se harde werk! Ons leef in absolute afhanklikheid van die natuur en God se genade is elke jaar onbeskryflik op ‘n ander manier.

BEWARINGSLANDBOU.

Om volhoubaar te kan boer span ons moderne boerderymetodes in. Die Malagas-area, waar ons plase hoofsaaklik gesentraliseer is, se jaarlikse reënvalsyfer is in die orde van 400mm per jaar.

 

Ons maak dus staat op minimum bewerkings en ander moderne boerderymetodes om die vog te bewaar en onkruid so organies moontlik, met lae insetkostes, te bestuur.

 

In ons bedryf is geleenthede om horisontaal uit te brei beperk, daarom spandeer ons baie energie om ons besigheid vertikaal te laat groei en ons grond vir die nageslag op te bou.

TOEKA TOT NOU | INTERESSANTE FEITE.

  • In 1960 het ‘n stroper lagwekkend min gekos.
  • Voor die 1906-vloed was Malagas die poort tot die Overberg. Sir Lowry’s Pas was nog nie gebou nie so alle plaasprodukte wat na Kaapstad en elders vervoer moes word, asook goedere wat deur Overbergers benodig is, moes deur hierdie hawe gaan.